Muizenberg Dramatic Society
  • Home
  • News & Reviews
  • Join Us
  • Memory Lane
  • Contact Us

News & Reviews

"Ibsen se Hedda Gabler 'verneder' met foefies"

18/3/2013

 
Hedda Gabler reviewed by Danie Botha (in Afrikaans)
regie deur Richard Higgs vir Muizenberg Dramatic Society
met Tamara Richards, Richard Higgs, Kelly Kowalski, Philippe Pringiers, Luke Brown, Pilar Pringiers, Jana Botha, CJ Opperman en Gareth Stewart

Ek had geen erg aan hierdie opvoering nie. 

Want:

Die regisseur glo hy’s verhewe bo ‘n beroemde dramaturg.  Hy’s oortuig dat ‘n gehoor  van 2013 hulp nodig het om ‘n klassieke, naturalistiese tragedie van 1890 uit ‘n somber fjordlandskap  in Noorweë te verstaan en meegevoer te word. Ja, (sarkasties)want ons  veertig-plussers  wat die lugverkoelinglose teater volpak, is mos analfabetiese skorriemorrie. Ons is kultuurloos, lees nie, weet niks van vervloë eeue se gebruike en tydsgees nie.  Geskiedkundige  aanbiedings  op die televisie, verhoog en in rolprentteaters is mos tjol.

Nee, ons móét VERRAS word. Hy wil eg menslike emosies en sielkundige insigte vermeng met selferkende absurditeite soos die ingevoegde  twee werkers wat die hele lange drama muurpapier opplak. Nes jy dink dié sinlose, aandagversteurende handeling is verby, begin hulle eers weer van voor af. Ai, die gehoor word heel aan die begin aan die giggel gesit en eroties gestimuleer as  CJ Opperman en Gareth Stewart voor die toe gordyn bietjie kaalheid wys terwyl hulle hul moderne oorpakke aantrek. Wat is die betekenis van hulle optrede? Die simboliek? Realisties is dit nie, oortuig dit nie. Daar is geen kontak tussen hulle en die “moeilike” Hedda wat seker die opdrag gegee het. Die hoofkarakters praat vreeslike dinge oor mekaar en dit voor hierdie “ore”?

Die kleredrag is van gemengde style en tye. Arme juffrou Juliane (Julle in die program)Tesman (Pilar Pringiers) is hewig geklee in die donker drag van destyds, kry moelik gesit met haar boeseltjie op die moderne, glinsterende stoele. Hedda (Tamara Richards) se gewade is outyds vloeiend én ook iets stomps en alledaags van ‘n hedendaagse kettingwinkel. Die regisseur wil vir ons illustreer: Só was dit gister; hoeveel anders as vandag? Asof ons die prekie  nodig het.

Die verhoog is oninteressant kalerig. Die blink stoele staan vervelig in ‘n reguit ry soos personeelstoele op ‘n skoolsaalverhoog.  Want daar word mos huisopknappings gedoen.  Van die meubels swaai aan drade om ‘n erg moderne, minimalistiese indruk  te skep. Skuus, maar ek het leedvermaak gesmaak toe een van Hedda se golwende gewade ‘n keer vasgehaak het  aan ‘n  dun kabel.

Die spelers se stemprojeksie  is deurgaans goed. Maar verder sondig hulle. Hulle neem mekaar se toonhoogtes en spraakritmes oor sodat almal so hoooog praat. Ek het dikwels opstandig geraak oor die blote praat-praat-praat . Jy kry nie die indruk dat daar iets psigies met bv. Hedda aan die gebeur is nie. Slegs by twee spelers skep  spraak en liggaamstaal iets dramaties. Hedda se liggaam kom byna heeltyd  ontspanne voor; kyk onder gesakte ooglede deur en gebruik hoogstens drie stemtone.  ‘n Mens mis ‘n energieke, kragdadige gedrewenheid.

Van atmosfeerskepping is hier byna nie sprake nie. Die regisseur kan gerus by Coleen van Staden en Raymond Rudolph  leer om ‘n toneel dramaties op te bou met deurleefde pouserings, beklemtonings, kontraste, uitlig van subteks  en goeie tydsberekening.


Die toneel in die derde bedryf tussen Hedda, mevrou Elvsted (Kelly Kowalski) en Lövborg (Luke Brown) – dis nou goeie spel! Klinkklare dramatiese botsing en kontrasterende karaktertekening; sensitiwiteit by Kowalski en gekontroleerde  emosioneelheid by Brown.


 In vanjaar se Shakespeare  by Maynardville, A Midsummernight’s Dream, was daar talle voorbeelde van waar regisseur Fred Abrahamse die gehoor verras en juis die betekenis, die dramaturg se bedoeling oordra .  ‘n Mens reageer spontaan daarop.  Verrassing is ‘n baie belangrike element in ‘n opvoering. maar  dan moet dit nie die gehoor verwar deurdat  teks, verhooginkleding en spel te vreemd bots nie.

Ek kan seker aanvaar dat die regisseur ‘n uitlaatklep soek vir sy intellektualiteit, sy individualisme. En dat hy nie die inleiding tot André P. Brink se Afrikaanse vertaling gelees het nie. Uit Brink se inleiding sou hy wonderlike uitdagings gekry het, agtergekom het hoe meesterlik die toneelstuk geskep is en sou hy gehuiwer het voor hy  Ibsen met foefies “verneder”het.
HK
19/3/2013 12:52:12 am

Interesting take on a production well executed. I had the pleasure of seeing Hedda Gabler on opening night and thoroughly enjoyed it.

Kudos to Richard Higgs for stepping into the role of Tesman on short notice and delivering so well!

I have read your reviews, what are your thoughts?


Comments are closed.

    News Archives

    September 2018
    July 2018
    April 2018
    March 2018
    August 2017
    May 2017
    March 2017
    February 2017
    January 2017
    November 2016
    October 2016
    August 2016
    April 2016
    October 2014
    June 2014
    March 2014
    February 2014
    January 2014
    November 2013
    October 2013
    September 2013
    July 2013
    June 2013
    May 2013
    April 2013
    March 2013
    February 2013
    December 2000

    RSS Feed

    Join Us
Powered by Create your own unique website with customizable templates.
  • Home
  • News & Reviews
  • Join Us
  • Memory Lane
  • Contact Us